Teken asb ons gasteboek


 

 

Volks helde

Klik op die naam onder om na die afdeling te gaan.


Paul Kruger

Rachel de Beer

JAN CHRISTIAAN SMUTS

Emily Hobhouse

Dirkie Uys

Danie Theron

Wolraad Woltemade


Paul Kruger

In hierdie tye kan veel inspirasie geput word uit die lewe en voorbeeld van Paul Kruger. Wanneer oor sy lewe nagelees word, is jy met agting vervul en teenoor die Here God dankbaar vir wat hierdie formidabele man, ondanks al sy tekortkominge, vir die Afrikanervolk gedoen het. Hy was 'n reus in elke opsig. Wat my altyd opval as ek na 'n foto van Paul Kruger kyk, is daardie indrukwekkende unieke gesig wat getuig van onvergelyklike forsheid en 'n koele selfvertroue uitstraal.

Paul Kruger is op 10 Oktober 1825 te Bulhoek in die Kaap gebore. Hy ontvang geen formele skoolonderrig nie, maar wel ongereelde onderrig van 'n swerwende onderwyser, 'n sekere Tielman Roos. As seun van die veld het hy so taai geword soos die landskap waarin hy opgegroei het en lees hy gedurende sy leeftyd slegs een boek, naamlik die Bybel, en drink hy slegs een drankie, naamlik melk. Hy was maar tien jaar oud toe hy aan die Slag van Vegkop deelneem en het hierdie gebeurtenis hom so aan die hart gegryp dat hy dit tot op sy oudag nog helder voor die gees kon roep. Gedurende 1838 beleef hy ook die verskriklike gebeure in Natal en keer saam met Hendrik Potgieter terug na die Transvaal. Sy eerste leeu skiet hy op die ouderdom van 14 jaar. Sy gereelde kontak met die wilde diere van die veld het hom 'n onverskrokkenheid en 'n selfversekerheid aangeleer wat hom later sou kenmerk. Hy lê belydenis van geloof af in 1842 voor eerwaarde Daniël Lindley en toe hy maar 16 jaar oud was, word die plaas Waterkloof naby Rustenburg aan hom toegeken. Dit sou syne bly vir die res van sy lewe. As jong man was hy 'n kranige atleet en was daar niemand wat vir Paul Kruger kon weghardloop nie. In 1845 het hy in 'n onderonsie met 'n renoster 'n tweede skoot moes afvuur wat die voorlaaier laat bars het en het sy linkerduim in die slag gebly. Hy moes trouens 'n deel daarvan self met sy mes wegsny! Jare later sou hy in Portugal ook 'n tand wat hom las gegee het, gewoon met 'n knipmes uitsny... Sy eerste vrou is met die geboorte van haar kind in Januarie 1846 oorlede en trou hy later met Gezina du Plessis wat 'n niggie van sy eerste vrou was. Gedurende hulle getroude lewe het hulle sestien kinders gehad.

In 1854 het hy die liggaam van sy gestorwe vriend Piet Potgieter in 'n heldhaftige poging weggedra uit 'n grot waar dit duidelik sou wees dat die swart aanvallers hierdie liggaam sou vermink. 'n Mens lees ook van Kruger wat in ongeveer 1857 'n keerpunt in sy innerlike lewe deurgemaak het wat 'n bepaalde blywende invloed op sy persoonlikheid gehad het. Daar vind 'n godsdiensverdieping plaas en sou hy vir die res van sy lewe besondere nadruk plaas op die handhawing van wet en orde en die ontlening daarvan in die godsdiens. Aan hom is die veeleisende taak opgelê om verskillende kommando's te lei teen die oproerige swart stamme. Dikwels het hy vir dae lank in die saal van 'n perd gesit sonder enige rus en was hierdie 'n ondankbare werk waarvoor hy ook baie gekritiseer is. Hier maak 'n mens dan ook kennis met die laksheid van die Afrikaner, ook in daardie jare; en dit te midde van 'n sterk leier soos Paul Kruger. Al hierdie kommando-aktiwiteite het ook tot gevolg gehad dat sy persoonlike sake daaronder gely het en was dit vir hom 'n voortdurende kwelling en 'n bron van kommer.

Paul Kruger het 'n sentrale rol gespeel in die daarstelling van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika en lees 'n mens van die feit dat Paul Kruger melding gemaak het van sommige "heerlike Gesange" maar ook van ander met 'n "verkeerde suurdeeg". In 1864 lei hy met sukses die staatsleër teen die sogenaamde volksleër in die geveg by die Krokodilrivier wat as 'n sogenaamde burgeroorlog bekend gestaan het, maar welke een van die onsmaaklikste episodes was in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Republiek.

Kruger moes toesien hoedat elke keer as burgers opgeroep is op kommando, daar slegs enkeles opdaag en was dit ook die geval in 1867 toe hy opgeroep is en die kommando gelei het te Kranskop by die Nylrivier naby Nylstroom toe slegs vierhonderd van die tweeduisend burgers wat opgeroep is, opgedaag het. Van hierdie vierhonderd was daar boonop heelparty wat eenvoudig weggeloop het en nie langer kans gesien het vir die stryd wat voorgelê het nie!

Kruger was op die ouderdom van 46 jaar nie geskik geag as leier van die republiek nie, maar is daar 'n keuse uitgeoefen ten gunste van Burgers, predikant van Hanover in die Kaapkolonie. Kruger was 'n fel teenstander van Burgers maar het wel, toe Burgers as president ingesweer is, vir hom gesê dat alhoewel hy verkeerde godsdienstige opvattings huldig, hy deur die meerderheid verkies is en Kruger as 'n goeie republikein, hom aan die uitspraak van die volk onderwerp in die hoop dat hy later sal kan insien dat Burgers gelowiger is as wat hy gedink het, in welke geval hy hom van harte sou gelukwens! Op hierdie stadium van sy lewe het Kruger dan ook besluit om sy toegewyde oorgawe aan sy werk vaarwel te roep en sy volle aandag aan sy persoonlike belange te wy.

Die res van die verhaal van Burgers se bewind is bekend en sou Paul Kruger eers na die anneksasie in 1877 weer op die voorgrond tree toe hy aangewys is om as deel van die deputasie die saak van die Republiek in Engeland te gaan stel. Kruger het dan ook verklaar dat die land as't ware in die hande van die Engelse geval het deur verraad, maar ook as gevolg van inwendige verrotting. Kruger was egter van mening dat hierdie anneksasie onwettig was aangesien die meerderheid van die bevolking nie daartoe toegestem het nie; daarom was die owerheid volgens hom onwettig. As gevolg van Kruger se onvermoeide ywer is daar dan ook memories opgestel waarin die oorgrote meerderheid van die burgers aangedui het dat hulle teen die anneksasie was. Die deputasie in Engeland het dan ook gestel dat die Republiek teen die sin van die inwoners geannekseer is, maar is hulle meegedeel dat dit onmoontlik was om die anneksasie te herroep.

Alhoewel baie stemme opgegaan het vir 'n gewapende opstand het Kruger tot kalmte gemaan en was hy oortuig daarvan dat daar nie genoeg vasberadenheid was om met 'n gewapende botsing voort te gaan nie. Hierdie verset sou egter groei totdat daar by Paardekraal tussen agt- en tienduisend mense byeen was. Nieteenstaande uitnodigings aan ander predikante het slegs dominee van Warmelo van die Hervormde Kerk sy opwagting by Paardekraal gemaak en het dit vir die volk gelyk asof die kerk sy aangesig van die volksaak afgewend het. Op 13 Desember 1880 het Paul Kruger dan ook die bekende woorde geuiter, naamlik: "In die stem van die volk het ek die stem van God gehoor, die Koning van die volke." Hierdie woorde sou later in sy loopbaan talle kere soos 'n refrein weerklink.

Ook in Kruger se tyd was daar onbekwame leiers. Thomas Burgers was een. Piet Joubert en MW Pretorius het ook nie aan die verwagtinge voldoen nie. Kruger het uitgetroon bo hierdie persone. 'n Ander faktor wat in hierdie tyd (1877-1881) die saak van die Boere belemmer het, was verraaiers wat die Britte in kennis gestel het van al die Boere se bewegings. Swak leierskap en verraad loop ongelukkig, soos al die goeie dinge, soos 'n goue draad deur ons ganse geskiedenis.

'n Brief van die Transvaalse regering gedateer 7 Februarie 1881 het die situasie van daardie tyd baie goed opgesom. Dit maak melding van leuenagtige voorstellings wat Transvaal hulle soewereiniteit gekos het en van vier jaar van uitputtende geduld en vrugtelose onderhandelinge. Vir die Transvalers was daar nouliks 'n keuse te maak tussen twee veragtelike dade, naamlik die anneksasie van hulle Republiek en die behandeling van hulle rebelle. Die brief sluit af om te sê dat hulle hulle saak met vertroue ooplê vir die hele wêreld. Hetsy hulle oorwin of sterf, die vryheid sal in Afrika verrys soos die son uit die môrewolke en dan sal dit wees van die Zambesi tot aan Simonsbaai. Hierdie stuk is onderteken deur Kruger en kan as een van die gevoelvolste uitings van die gees van nasionalisme wat op daardie stadium onder die Afrikaanse volk vaardig was, beskou word.

Kruger het steeds geweld as opsie probeer vermy. Die gebeure daarna sou egter die Boere tot ander metodes dwing en die oorwinning by Majuba die smaad van Boerelafhartigheid uitwis, alhoewel dit die Britte met wraak besiel het. Dit het egter die Afrikaner se selfvertroue herstel. In die vredesonderhandelinge wat gevolg het, het Jorrisen en Kruger aangedring op 'n skriftelike ooreenkoms, alhoewel Joubert in sy naïwiteit hardop aangedring het dat die vereisde dokument onnodig was! Dit is tydens hierdie gebeure dat Kruger Engels gepraat het; een van weinige kere. Sy woorde aan die persoon wat die vergadering wou verlaat was: "Stop that man!". Dit is deur die toedoen van Kruger dat die Konvensie van Pretoria later daardie jaar op 3 Augustus 1881 te Pretoria onderteken is en wat Transvaal se beperkte soewereiniteit herstel het. Hierdie gebeure het Kruger al hoe wantrouiger teenoor die Britte gelaat en in die besonder wat hulle bedoelings met die Boere was.

Ná hierdie gebeure sou Kruger as leier nie meer sy gelyke in die Transvaal hê nie. Hy het dan ook dadelik stappe geneem met die hervorming van die onderwys op 'n Christelik-nasionale grondslag en het ds SJ du Toit vir hierdie doel betrek. Toe Kruger later daardie jaar by die Geloftefeesvieringe te Paardekraal die volk toegespreek het, het hy gesê dat die drukte oor die volk gebring is omdat die Bybel uit die skool geneem is. Aan die einde van 1883 verslaan Kruger vir Piet Joubert met 'n stemtotaal van 3431 teenoor 1171 en word hy ingesweer as president. In September 1883 het 'n deputasie weer na Brittanje vertrek en het Kruger onder andere 'n toespraak in die Paarl gehou op pad na Kaapstad. JS Marais, 'n lid van die Wetgewende Vergadering het Kruger geprys dat hy as helder hoof en met skerpsinnige brein die Vryheidsoorlog gelei het en die belangrikheid van sy politieke stryd beklemtoon. Volgens Marais was Kruger bekend en bemin deur die lengte en breedte van die land. Kruger het Marais bedank en gesê dat sy land bitter gely het onder die leuenpropoganda, maar dat die waarheid geseëvier het en dat niemand meer die leuens van die anneksasie glo nie. Kruger het gesê dat hy met verlange uitsien na die tyd dat alle state van Suid-Afrika sal besef dat die heil en voorspoed van die een ook die heil en voorspoed van die ander moet beteken. Almal moet dit leer en saamwerk in belang van die hele land. Kruger het dit ook tydens hierdie geleentheid beklemtoon dat al die state, en met spesifieke verwysing dan na Kaap en Natal, 'n gemeenskaplike naturellebeleid moet hê sodat dit die einde van al hierdie oorloë met die naturelle kan beteken. Kort daarna het Kruger opnuut gewag gemaak van die eenheidsideaal en selfs gepraat van 'n unie wat van die Kaapkolonie tot Delagoabaai en van Natal tot die Zambesi sou strek. Hy het melding gemaak daarvan dat een belang - die welsyn van Suid-Afrika - deur almal vooropgestel sal moet word. Daar is diegene wat beweer dat dr. Verwoerd iets anders voorgestaan het as wat Kruger voorgestaan het. Hierdie opmerking van Kruger is egter afdoende bewys dat hierdie praatjies bog is. Kruger en Verwoerd het dieselfde ideaal nagestreef, naamlik 'n verenigde Afrikanerdom in die ganse Suid-Afrika.

Tydens die samesprekings in Engeland het Robinson Kruger tot leuenaar wou maak en het Kruger hom byna te lyf gegaan en moes Robinson Kruger om verskoning vra vir die leuen wat hy verkondig het oor Kruger. Alhoewel nie volkome suksesvol nie, het hierdie deputasie se samesprekings tot gevolg gehad dat die Konvensie van Londen op 27 Februarie 1884 onderteken is en is die naam, die Zuid- Afrikaanse Republiek, weer formeel deur Brittanje erken.

In die res van Europa is Kruger en die res van die deputasie soos helde ontvang. So byvoorbeeld het elke skoolkind in Nederland geweet wie Paul Kruger is en het professor WM Gunning in 'n welsprekende rede verklaar dat 'n deel van die glans van die Transvaalse geskiedenis op die ou moederland afgestraal het. Interressant is dat dr. Abraham Kuyper tydens hierdie besoek van die deputasie aan Nederland taamlik swartgallig oor die toekoms van die Nederlandse volk gepraat het en gemeen het dat sy volk geen groot roeping meer het nie.

In hierdie tydperk sou Kruger die bekwame dr. WJ Leyds as Staatsprokureur aanstel. Leyds was Engels, Frans, Duits en Nederlands magtig en het 'n voortreflike regskennis gehad. Hy was egter nooit populêr nie. Tydens sy besoek aan Spanje het Kruger ook 'n stiergeveg bygewoon en dit afstootlik gevind. Wat hom egter verbaas het, was die gedrag van die vrouens wat in ekstase geraak het oor wat vir hom barbaarse wreedheid was! SJ du Toit het 'n geniale aanleg en sprankelende persoonlikheid gehad wat sy omgewing geïnspireer het en hy het baie gedoen vir die onderwys in die Transvaal. Hy het egter 'n oordrewe opinie van homself gehad en algaande het daar 'n spanning tussen Leyds en Du Toit ontwikkel.

Dit koms van goud sou vir Suid-Afrika beide 'n seën en 'n vloek wees. Die vloek was daarin geleë dat al wat fortuinsoeker en bedrieër was, sy weg na Johannesburg gevind het. In hierdie proses sou die geldmagte dan ook poog om die Republiek te vernietig.

In Desember 1886 het Kruger weer die rede by die Paardekraal- Geloftefees gehou. Hy het gesê dat alhoewel hy geen teologiese opleiding geniet het nie, en hy nie skaam was om sy onkunde te bely nie, hy in die uitwendige sowel as die inwendige kerk van die Here die genade en die Gees van die Here leer ken het. Uit die binneste van sy siel het hy lus gehad om die Here te dien soos hy hom aan die menslike geslag geopenbaar het en om daarin te kan wandel en handel. Daarvoor moes die Drie-enige God as enigste gids aangeneem word. Die rede wat Kruger by hierdie geleentheid gelewer het, het van 'n toelogiese kennis en insig gespreek wat vandag by die meerderheid van ons predikante afwesig is. Hy het voortgegaan deur te sê dat nes Israel sy volk ook uitverkore is tot 'n roeping. Die Gelofte moes vir die nageslag lewendig gehou word soos God ook aan Moses beveel het. Hy het mense opgeroep om te waak teen die stroom van vreemdelinge in hulle land en dat hulle nie van die regte spoor weggevoer word nie, maar die weg van die Here moet soek.

Vir Kruger was die onafhanklikheid en vryheid van sy volk kosbaar. Hy het dit gesien as die eersgeboortereg van die volk wat as 'n dierbare kleinood bewaar moet word. Hierdie standpunt van Kruger het hom bemind onder sy volk gemaak en verseker dat hy telkens as president herkies is. Kruger was ook van mening dat Afrikanerkinders nie langer in die buiteland moes studeer nie en het gepleit dat, al is daar slegs een professor, daar 'n instelling in Pretoria tot stand moes kom en is 20 000 pond vir die doel bewillig. Hy was van mening dat die eerste leraar 'n professor in die regte moes wees sodat toekomstige regsgeleerders self in die Transvaal opgelei kon word. Vir hom moes hierdie persoon 'n man van hoogste geleerdheid wees, maar ook 'n kind van God. 'n Regsgeleerde moes volgens hom ook in die geloof opgevoed gewees het. In hierdie doel kon Kruger nie slaag nie omdat daar nie veel hulp uit Nederland gekom het met die aanstelling van so 'n persoon nie.

Kruger wou ten alle koste 'n spoorverbinding met Delagoabaai hê ten einde die onafhanklikheid van die Republiek verder te versterk. In 'n gesprek met Rhodes oor die kwessie het Rhodes opgemerk dat Delagoabaai eenvoudig van die Portugese gevat moes word! Kruger se antwoord was dat 'n vloek op hom rus wat goed op so 'n manier verkry.

In die presidentsverkiesing van 1893 het Kruger, veral danksy die steun wat lidmate van die Gereformeerde en Hervormde Kerk vir hom gegee het, weer die paal gehaal, alhoewel Joubert die keer met 'n skamele 845 stemme verslaan is. In sy intreerede het Kruger vermeld dat 'n persoon wat onverskillig teenoor sy taal is, ook onverskillig teenoor sy voorouers en teenoor die Bybel is en naderhand ook teenoor sy godsdiens en sy volk.

Die teenstand wat vanuit die geledere van die geldmagte teen Kruger gemonster is, het algaande al hewiger geword. Na die politiek van die Transvaal is verwys as Krugerisme, 'n samevatting van alles wat boos is. Die plan om die republiek te vernietig het begin posvat en 'n propagandaveldtog is van stapel laat loop om Kruger as 'n ongewenste persoon te beskou. Verskeie onderduimse aktiwiteite is dan ook beplan en daar is groot gewag gemaak van die sogenaamde griewe van die buitelanders. Met die berugte mislukte Jameson-inval het Kruger nogeens bewys dat hy 'n staatsman van formaat was toe hy nie voor die geroep om wraak geswig het nie en die vier ter-dood- veroordeeldes begenadig het. Hierdie stap deur Kruger het sy populariteit die hoogte in laat skiet.

Kruger was ook 'n emosionele mens wat somtyds, wanneer sy gemoed vol geword het, gehuil het. Een so 'n geleentheid was tydens die ingebruikneming van die Gereformeede Kerk te Potchefstroom in 1897. Die geskil tussen Kruger en hoofregter Kotze is iets wat 'n afsonderlike artikel regverdig en nie binne die bestek van enkele sinne afgehandel kan word nie, juis vanweë die eensydigheid van artikels wat elders (en selfs onlangs) verskyn het en waarin ten onregte beweer word dat Kruger nie respek vir die onafhanklikheid van die regbank getoon het nie. Wat wel hier gekonstateer kan word, is dat Kotze, alhoewel in baie van sy sienings korrek, se optrede onvanpas was en hy homself 'n status aangematig het wat definitief nie te vereenselwig is met dié van 'n regter nie. Dit is deur talle ingesien, waaronder later ook regter Gregorowski, Kotze se opvolger, iemand wat hom aanvanklik by Kotze geskaar het.

In die jare wat sou volg, sou die werklike oogmerk van Brittanje met die republiek duidelik na vore tree. So het Milner dan ook verklaar dat hy vasberade is om die heerskappy van die Afrikanerdom te breek en is die griewe van die uitlanders uitgebuit vir daardie doel. Die atmosfeer is boonop vergiftig deur 'n stelselmatige kampanje van leuens, uittarting en beledigings. Alhoewel die verblyfkwalifikasie vir die stemreg van 14 jaar tot 9 jaar verminder sou word, het die uitlanders steeds op 5 jaar aangedring. Kruger het deur dit alles gesien en verklaar dat dit die onafhanklikheid is wat hierdeur geskend sou word, maar was te midde van alles nog steeds bereid om die verblyfkwalifikasie tot 7 jaar af te bring. Kruger het ná die onderhandelinge in Mei 1899, waartydens geen ooreenkoms met Milner bereik kon word nie, die hele nag deur gehuil en gebid. Hy het dan ook besef dat die enigste alternatief oorlog sou wees en het gemeen dat geen regering met enige selfrespek hom by so 'n brutale uitdaging sonder teenweer kon neerlê nie. Op 'n vraag van Abraham Fischer aan Milner waarmee hy tevrede sou wees, het hy geantwoord dat wat Kruger ook toegee, hy nie daarmee tevrede sal wees nie, hy sal altyd meer vra. Sommige wil beweer dat twee jaar, die verskil tussen die aanspraak van die buitelanders en die toegewing van Kruger, die verskil tussen oorlog en vrede was. Dit word besweer deur Milner se mededeling aan Fischer.

Kruger het by pres M.T. Steyn gepleit dat daar geen verdere uitstel van die Vrystaatse besluit oor toetrede tot die geledere van Transvaal moet wees nie, aangesien hy ingesien het dat Brittanje hulle elke dag meer en meer gereed gemaak het vir oorlog. Hy het verdere uitstel as 'n misdadige stap gesien. Op 2 Oktober 1899 het Kruger in die Volksraad gesê dat hy hom volkome in God se hande plaas ten aansien van die naderende oorlog. Kruger se ouderdom het hom weerhou van aktiewe deelname aan die oorlog, maar hy het 'n verbasende praktiese kennis en insig geopenbaar gedurende die Anglo-Boereoorlog. Hy kon lafhartigheid nie verdra nie. By een geleentheid het 'n vlugtende kommandant Kruger wou groet maar is hy deur Kruger toegesnou dat Kruger nie aan die hand van 'n lafaard vat nie. Op 'n stadium het Kruger selfs voorgestel dat die voorste vlugtelinge met perde en al doodgeskiet moes word. Met die dood van Piet Joubert het Kruger opgemerk dat hy iemand verloor het wat langs hom gestaan het sedert hulle albei jongelinge was en dat hy hom as 'n troue generaal en 'n ware Christen beskou het.

Kruger se gesondheid sou algaande agteruitgaan en hy is met die skip, die Gelderland, na Europa. Na die oorlog en op 14 Maart 1904 sou Steyn en Kruger mekaar die laaste keer sien. In Mei 1904 sou die bekende boodskap van Kruger die lig sien waarin die volk aangemaan is om, wanneer hulle die toekoms skep, nie die verlede uit die oog te verloor nie en waarin hy hulle opgeroep het om weer in eenheid en eendrag die stryd voort te sit. Op 14 Julie 1904 is Kruger oorlede. Tydens sy begrafnis in Pretoria in Desember 1904 was daar bykans 20 000 mense teenwoordig.

Te midde van alles wat oor Paul Kruger gesê kan word, bly die feit staan dat daar waarskynlik nie 'n Afrikaner was wat meer gedoen het vir die selfrespek van sy volk en die aansien van sy land in die wêreld as hy nie. In die heldegalery van die Afrikanerdom troon 'n man uit wat die wêreld verstom het met sy durf en sy eie mense geïnspireer het met sy moed. Dit was Paul Kruger.

Vertel vir u kinders van hierdie reus. En wees dankbaar vir wat hy vir u volk gedoen het. Want daar was maar een soos hy

NA BO

Rachel de Beer

Hierdie is die verhaal van die 12-jarige Rachel de Beer, wat haar lewe geoffer het om 'n ander se lewe te red.
Die jaar was 1843, en dit sou 'n bitter koue winter wees. Racheltjie was saam met haar gesin op trek gewees vanaf die Oranje-Vrystaat na die Suid-Oos Transvaal toe.
Terwyl hulle nog verder op soek was na grond, het hulle een aand oorgestaan in die veld op 'n boer se plaas.
Die aand, toe die beeste weer in die takkraal gejaag word, kom daar een kalfie kort. Die kalfie se naam was "Frikkie" en die kinders was baie lief vir hom.
'n Soekgeselskap is dadelik op die been gebring. Racheltjie en haar 6-jarige boetie het deelgeneem aan die soektog. Dit het egter al begin skemer word, en kort voor lank was Racheltjie en haar boetie, verdwaal.
Koue het ongenadiglik op hulle toegeslaan, en dit het boonop begin sneeu ook. Wetende dat stilstand hulle dood sou beteken, het Racheltjie hulle aan die loop gehou. Sy het besef dat hulle dit nie sou oorleef nie. . .
Met 'n klip het sy 'n miershoop in die veld uitgehol. Daarna het sy haar klere uitgetrek, en vir haar boetie aangetrek. Sy het volgende haar boetie beveel om binne in die miershoop te klim. Met haar kaal lyfie het sy voor die miershoop gaan le om so die koue buite te hou . . .
So het hulle haar dood aangetref die volgende oggend. Styf van die koue het haar boetie uitgeklim.
Die verhaal van Racheltjie sou vir altyd in die geheue van die Boerenasie bly voortleef

NA BO


JAN CHRISTIAAN SMUTS

JAN CHRISTIAAN SMUTS (1870 - 1950) was in die eerste helfte van die twintigste eeu een van die oorheersende politieke figure in die Suid-Afrikaanse politiek. Maar hy was ook ’n gerekende veldheer van wêreldklas en ’n groot diplomaat en staatsman. Op sy eie besondere manier het hy geen geringe bydrae gelewer om die wêreld te help slyp waarin ons vandag lewe nie.

Oor hierdie opgeleide Boere-advokaat se briljantheid sou niemand kon twyfel nie. Die leidende rol wat hy in die stigting van sowel die gewese Volkerebond en dié se opvolger, die Verenigde Nasies, gespeel het, staan vir alle tye in die annale opgeteken. Voorts spreek sy prestasies as militêre strateeg uit die vele dekorasies wat hy van verskillende lande ontvang het.

Wat meer sê, uit waardering vir sy skitterende bydraes op die wêreldtoneel het verskillende universiteite in Suid-Afrika, Engeland, Skotland, Amerika en Europa nie minder nie as 29 eredoktorsgrade aan hom toegeken. Hy is ook tot ’n vryburger van 18 stede verklaar.

Maar Smuts se politieke loopbaan is deur nederlae sowel as suksesse gekenmerk. Vanweë sy omstrede opvattings is hy dikwels nie onder sy eie mense geëer nie, want hy het soveel toenadering tot Brittanje gesoek dat hy baiemaal in Afrikanergeledere as ’n soort verraaier van die Boerevolk beskou is.

Dit laat steeds by party mense vrae ontstaan oor Jan Christiaan Smuts se ware statuur in die geskiedenis. Miskien moet nog ’n aantal jare verloop voordat objektiewer oordele daaroor gevel sal kan word. Intussen bly dit tog nodig dat die huidige geslag weer sal kennis neem van hierdie man wat deur sekere historici as bes moontlik die invloedrykste Suid-Afrikaner van die twintigste eeu beskou word.

As Suid-Afrikaanse geskiedenismaker van die 1900’s sal hy maklik die voorste plekke op die podium met Nelson Mandela en die hartoorplantingspionier Chris Barnard kan deel.

SMUTS is in 1870 te Bovenplaats, digby Riebeek-Wes, gebore in die destydse Kaapkolonie wat toe nog ’n deel van die magtige Britse Ryk was. Dit was veertig jaar voordat hy sou sien hoe Kaapland, die kolonie Natal en die gewese Boererepublieke van die Vrystaat en Transvaal saam onder die Britse vlag in die Unie van Suid-Afrika opgaan.

Hy was die tweede seun van Jacobus Abraham Smuts en sy vrou en ’n nasaat van ’n ou Kaapse familie van wie die stamvader reeds voor 1692 uit Nederland hier aangekom het.

Jannie het slegs vyf jaar skoolgegaan nadat hy eers op die ouderdom van twaalf jaar skool toe is en hom daarna na die ou Victoria-kollega begewe, wat later die Universiteit van Stellenbosch sou word. Ná ’n skitterende akademiese loopbaan aan dié kollege en vervolgens aan die Universiteit van Cambridge in Engeland, is Smuts in 1895 as advokaat in Kaapstad tot die Kaaplandse balie toegelaat. Hy was ’n bewonderaar van die Kaaplandse koloniale eerste minister Cecil John Rhodes en het dié se ideaal vir ’n verenigde Suid-Afrika gesteun.

Rhodes se betrokkendheid by die sogenaamde Jameson-inval, ’n komplot om die Boereregering in die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) omver te werp, het egter daartoe gelei dat Smuts sy rug op Rhodes gekeer het.

Hy het hom in Johannesburg gaan vestig en is in 1897 met sy Stellenbosse studentenooi, Isie Krige, getroud. In 1898 het hy Staatsprokureur van die ZAR geword en na Pretoria verhuis. Hy het ’n leidende rol gespeel in die laaste onderhandelings tussen Republiek en Engeland voordat die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het. Smuts was in der waarheid die vader van ultimatum van 9 Oktober 1899, waarin geëis is dat die Britse troepe teruggetrek word wat na die grense van die ZAR gestuur is. Die ultimatum het op 11 Oktober verstryk en Boer en Brit het mekaar die stryd aangesê.

Soos alle weerbare burgers van die ZAR en Vrystaat het Smuts die wapens opgeneem en hy was van 1900 af ’n kommandant onder genl. J.H. de la Rey. In die winter van 1901 lei hy met 300 burgers ’n inval in die Kaapkolonie en dring tot in Namakwaland deur. Tot die einde van oorlog was hy assistent-kommandant-generaal van Republikeinse strydmagte in die Kolonie.

Toe daar in 1902 met die Britte in Pretoria om vrede onderhandel moes word, is sy kundigheid weer benut, en hy het ook die vredeskongres te Vereeniging bygewoon.

Toe genl. Louis Botha in 1904 die party Het Volk stig, sluit genl. Smuts hom by hom aan. Botha en Smuts belowe trou aan Brittanje indien Transvaal selfregering ontvang. Smuts sou hom só by hierdie belofte hou dat hy dikwels deur Afrikaners as ’n pleitbesorger vir Brittanje beskou is pleks van om Suid-Afrika eerste te stel. In der waarheid was hy egter ’n groot patriot wat bloot geglo het dat noue bande met Brittanje in die beste belang van sy land was.

BOTHA het die eerste premier geword van die Unie van Suid-Afrika wat in 1910 gevorm is, en Smuts het etlike poste in sy kabinet beklee. In die Eerste Wêreldoorlog word Smuts bevelhebber van die magte wat die Duitse kolonies in Afrika verower en onderdruk hy ook die Rebellie van 1914-1915 van sekere van die einste Boere saam met wie hy iets meer as ’n dekade tevore teen Engeland geveg het.

Smuts jaag Afrikaner-nasionaliste verder die harnas in deur nie Jopie Fourie te begenadig nie, die enigste rebel wat ná die mislukte Rebellie tereggestel is.

In 1917-18 verteenwoordig Smuts Suid-Afrika in die Imperiale Oorlogskabinet in Londen, en in 1919 is hy ’n afgevaardigde na die Vredeskonferensie by Versailles. Met sy versiendheid besef hy dat daar in die toekoms probleme kan kom weens sekere onbillike vredesvoorwaardes en hy weier dan ook aanvanklik om die Vredesverdrag namens Suid-Afrika te onderteken. Die Volkerebond (die ou voorloper van die Verenigde Nasies) word gestig en sy handves word grootliks op ’n geskrif van Smuts gegrond.

Met Botha se dood in 1919 word Smuts die premier van die Unie, maar in 1924 word hy vervang deur genl. J.B.M. Hertzog, wat afskeiding van Brittanje voorstaan. Wat het dan Smuts se aansien ’n knou gegee?

In 1922 het 'n ernstige staking onder die blanke mynwerkers aan die Witwatersrand uitgebreek, veral weens ontevredenheid oor verminderde lone en die grootskeepse indiensneming van halfgeskoolde swart werkers in sekere poste. Toe sake in Johannesburg begin hand-uit ruk en dit duidelik word dat sekere vakbondleiers die regering omver wil werp om 'n werkersrepubliek aan die Witwatersrand uit te roep, het Smuts kragdadig opgetree. Hy het die hulp van die Weermag ingeroep, en talle stakers is doodgeskiet voordat die staking finaal beëindig kon word. Dit het die mynwerkers erg verbitterd teenoor Smuts gemaak.

Die verwoestende Depressie van die jare dertig het Hertzog en Smuts wel tot samewerking in ’n koalisieregering genoop en hierdie samewerking het inderdaad so goed gevlot dat hul partye in 1934 saamgesmelt om die Verenigde Party te vorm. Maar die teenstrydige lojaliteite van die Afrikaans- en Engelssprekende ondersteuners het mettertyd tot soveel spanning in die party gelei dat die skrif aan die muur was.

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939 is dinge toe ook op die spits gedryf en die "Smelter"-regering van genls. Hertzog en Smuts is finaal aan flarde geskeur. Eerste minister Hertzog wou hê dat die Unie neutraal moes bly in die oorlog, terwyl Smuts gemeen het dat dit die Unie se "eer en plig" was om Brittanje te steun. Op 4 September is die saak in die Volksraad tot stemming gebring, en Hertzog is met 80 teen 67 stemme verslaan. Smuts het weer eerste minister geword en Suid-Afrika was ook in die oorlog.

Die Unie het sy verdedigingsmagte onmiddellik ná 1939 skouspelagtig uitgebou en op roemryke wyse aan die Geallieerde veldtogte in Oos- en Noord-Afrika deelgeneem. In die Unie self het daar in die oorlogsjare groot politieke verdeeldheid geheers, maar Smuts het ook die toppunt van sy persoonlike aansien bereik en is oral in die Geallieerde lande as 'n staatsman van wêreldformaat vereer.

Reeds in 1941 is die rang van veldmaarskalk van die Britse leër aan hom toegeken, en hy was die enigste staatsman uit die dominiums wat in Winston Churchill van Brittanje se oorlogskabinet opgeneem is. Later het Smuts ook 'n belangrike rol gespeel in die stigting van die Verenigde Nasies en het hy die inleiding tot die organisasie se handves geskryf.

In Suid-Afrika self is hy deur die Engelssprekendes op die hande gedra en met eerbewyse oorlaai. Sy steun onder die Afrikaanssprekendes het egter vinnig afgeneem weens die groeiende gevoel dat hy sy rug op die Afrikanerdom gekeer het...

IN die oorlogsverkiesing van 1943 het die Smuts-regering met sy beleid van heelhartige steun aan die Geallieerde oorlogspoging ’n klinkende oorwinning behaal en Smuts het toe nog op die toppunt van sy persoonlike aansien gestaan.

Toe die kiesers van Suid-Afrika dus weer op 26 Mei 1948 na die stembus gaan om 'n nuwe Volksraad aan te wys, het die meeste mense, genl. Smuts inkluis, die uitslag as 'n voldonge feit beskou. Maar die kiesers het anders besluit: sy regering is uit die kussings gelig en moes plek maak vir 'n nuwe bewind. Vir die bejaarde genl. Smuts was dit 'n dubbele slag, want selfs in sy eie kiesafdeling (Standerton in Transvaal) is hy deur 'n opposisie-kandidaat verslaan.

Maar presies wat het in die vyf jaar ná die verkiesing van 1943 gebeur wat so 'n sensasionele ondergang van die Smuts-bewind sou veroorsaak? Ná 1945 het Suid-Afrika hom in 'n al hoe meer veranderende wêreld bevind. Reeds by die eerste vergaderings van die pas gestigte Verenigde Nasies, waarvan Suid-Afrika 'n stigterslid en genl. Smuts soos gesê een van die vaders was, het dit geblyk dat Suid-Afrika se rassevraagstuk voortaan ten nouste gekoppel sou wees aan die wêreldpolitiek, waarin die kleurvraagstuk ’n al hoe belangriker rol sou speel.

Die groot toestroming van swart werkers na die stede en die feit dat genl. Smuts dit nie kon keer nie, het 'n groot deel van die blanke kieserskorps erg verontrus, en die vrees dat die blankes in hul eie gebiede verswelg sou word deur 'n swart meerderheid, het sterk toegeneem. Boonop het party van genl. Smuts se belangrikste ministers, o.a. die briljante J. H. ("Klein Jannie") Hofmeyr, openlik opvattings oor rassesake gehuldig wat al hoe meer Afrikaners daarvan oortuig het dat die Smuts-bewind met sy beleid op rasse-integrasie afstuur.

Omdat veral die blanke Afrikaners destyds oortuig daarvan was dat hul beleid van segregasie tussen blank en nie-blank die enigste manier sou wees om die blanke beskawing in Suid-Afrika te handhaaf en te verseker, het Suid-Afrika op sy veel verguisde weg van apartheid beland -- ’n beleid wat, hoe baie mense ook al die doelstellings daarvan probeer vergoelik het, tot heeltemal te veel ellende gelei het.

Of Smuts self destyds die antwoord gehad het -- heel waarskynlik nie -- is natuurlik ’n ander vraag. Ook hy moes by die Verenigde Nasies deurloop onder beskuldigings dat Suid-Afrika sy nie-blankes onderdruk. Maar dit bly ’n interessante oefening om te bespiegel hoe die tweede helfte van die twintigste eeu vir Suid-Afrika sou verloop het as sy Verenigde Party en nie die Nasionaliste nie die verkiesing van 1948 sou gewen het.

Jan Christiaan Smuts is op 11 September 1950 op die plaas Doornkloof, naby Pretoria, oorlede. Vriend en vyand het besef dat die land ’n leier verloor het wat ’n duidelike en besliste merk op die geskiedenis gelaat het.

NA BO

Emily Hobhouse


Emily Hobhouse is gebore op 9 April 1860, in St. Ive, Oos-Cornwall, Engeland. Sy het haar lewe spandeer om mense in nood van hulp te wees. In die geval van die Boerevolk het sy verbete volgehou om die toestande in die Konsentrasiekampe aan die buiteland te verkondig.
Selfs nadat sy ook gedeporteer was, het sy aangehou om te veg vir die verbetering van die lot van die kampmense.

Na die oorlog het Emily steeds aangehou om haar energie aan te wend vir die verslane Boerevolk. So het sy dan deur die hele Suid-Afrika gereis, en het 'n skema van tuisnywerhede vir jong meisies, die lig laat sien.
Swak gesondheid dwing haar terug na Europa waar sy tot aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog. Na die oorlog in Europa werk sy dan ook om die lot van die armoediges te verbeter.
Emily het egter nooit haar geliefde Boerevolk vergeet nie, en hulle ook nie vir haar nie. Sy het gereeld briewe gewissel met van die belangrikste volksleiers.
Emily het later terug getrek na London, waar sy op 8 Junie 1926 oorlede is.

Emily se laaste wens was om in Suid-Afrika begrawe te word, en so is haar as aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe.

NA BO

Dirkie Uys

Die datum is 10 April 1838. Die uur van beslissing het geslaan. Dit was nou of nooit. Piet Retief en sy klein kommando is uitgemoor tydens onderhandelinge met Dingaan, die koning van die Zoeloes. Moord en verskrikking het hierop gevolg. Die Voortrekkers was op hul laaste.
Dit was nou 'n kwessie van oorleef. Hierdie strafekspedisie was meer as net dit. Die een wat verloor sou sy bakens moes versit.

Hendrik Potgieter sou sy mense lei, terwyl Piet Uys sy mense sowel as Gerrit Maritz en oorlede Piet Retief se mense sou lei. Sodoende het die kommando in twee verdeel.

Aanvanklik het die geveg in die Voortrekkers se guns geswaai. Die Zoeloes het op vlug geslaan en Piet Uys se kommando het hulle agtervolg. Deur die Italeni kom het hulle die Zoeloes gevolg - reg in 'n lokval in.

Die Voortrekkers moes net uithaal en wys om hulself te verdedig. 'n Assegaai het egter vir Piet Uys noodlottig verwond. Hy was besig om te sterf en het sodoende die kommando vertraag. Kommandant Uys het hulle beveel om hom te los en te vlug.

Die Trekkers het op vlug geslaan, maar die jonge Dirkie Uys, seun van Kommandant Piet Uys, het geweier om sy vader alleen te laat.

Langs sy vader se sy, het hy geveg teen die Zoeloes. Later, toe hulle te naby vir hom was om weer sy geweer te herlaai, het hy met die kolf van sy geweer teen hulle baklei. . . . .

Die kommando sou later bekend staan as die Vlugkommando, en het die laagtepunt van die Groot Trek beteken.

Die heldedood van Dirkie Uys, langs sy vader, sou egter na meer as 150 jaar na sy dood, nog steeds in die volksmond bly voortbestaan.

NA BO

Danie Theron


Naam: Kommandant Daniel Johannes Stephanus Theron
Gebore: 9 Mei 1870, Tulbagh
Oorlede: 5 September 1900, Gatsrand

Lewensverhaal:
Voor die oorlog was Danie Theron 'n wetsagent in Krugersdorp waar hy reeds vanaf 1891 vir homself begin naam maak het. Reeds in die begin het hy getoon dat hy 'n ware Patriot was deur vir die Boere se saak te veg.

Met die uitbreek van die oorlog gaan hy onmiddellik na Natal toe. Hier stig hy 'n Fietsryerskorps wat op spore beweeg het en so vinnig boodskappe kon oordra.

Na die slag van Colenso stig hy 'n verkennerskorps wat groot name sou oplewer, onder andere die van Manie Maritz.

Danie Theron was 'n held wat etlike kere deur vyandlike linie moes breek om belangrike boodskappe oor te dra, soos die keer toe hy Generaal de Wet se boodskap moes oordra aan Generaal Cronje toe die vasgekeer was.

By Gatsrand, naby Potchefstroom het Danie Theron gesneuwel op 15 September 1900 nadat hy en sy makkers vasgekeer was. Hy is net daar begrawe, maar is later langs sy verloofde herbegrawe.

Danie Theron is deur skrapnel van 'n kanonkoel getref en dit het sy dood veroorsaak. Die stuk yster is bo op 'n ossewa wiel gemonteer en staan voor die skoolsaal van laerskool Fochville.

NA BO

Wolraad Woltemade


Die verhaal van Wolraad Woltemade is waarskynlik ook die verhaal van ons land se eerste heldedaad. Hierdie gebeurtenis het plaasgevind 120 jaar na die stigting van die verversingstasie aan die Kaap. Die Kaap wat toe reeds bekend gestaan het as "Die Kaap van Storms" . . . . De Jonge Thomas, 'n Oos-Indiese skip, het op Sondag, 30 Mei 1773 in 'n hewige storm beland in Tafelbaai. Vir 'n dag en 'n nag het die storm in woede toegeneem, sodat die ankertoue later een vir een gebreek het. Vir die 207 man aan boord was dit asof die einde aangebreek het. Vreesbevange het hulle gebid om redding en uitkoms . . . . Doelloos het die skippie rondgeslinger tussen die verwoede golwe, totdat dit naderhand op 'n sandbank vasgespoel het. Die kaptein en die meeste van die skip se bemanningslede kon niks anders doen as om hulpeloos aan die wrak te klou, en om om hulp te roep nie. Nuuskieriges het saamgedrom en Goewerneur van Plettenberg het onmiddelik 'n dertigtal soldate - nie om die matrose te red nie, maar om die skeepswrak te bewaak - gestuur. Onder hierdie soldate was dan ook 'n man genaamd Christian Ludwig Woltemade. Christian Ludwig Woltemade se bejaarde vader van tussen 60 en 70 jaar oud, het dan ook vir sy seun kos gebring. Die vader, Wolraad Woltemade het gesien dat niemand eens 'n poging aanwend om die bemanningslede te red nie. So het hy dan met sy moedige perd die see ingeswem om die mense se lewens te red. Sewe maal het hy die branders ingery met sy perd, om elke keer 2 mense se lewens te red. Die agtste maal het van die matrose histeries geraak, en het almal aan hom en sy perd geklou. Dit was te veel vir die reeds uitgeputte Wolraad. So het hy en sy perd dan ook onder die golwe van die Kaapse kus verdwyn. . . . . . . .

NA BO

KONtak


Stuur e POS